Nasleep
36-jarige Paul du Toit, ‘n geheime agent in die Weermag tydens die laaste jare van wit oorheerste Suid Afrika, glo hy het sy gewelddadige lewe agtergelaat. Totdat omstandighede hom dwing om voor die Waarheids- en Versoeningskommissie aansoek te doen om amnestie vir die dood van twee antiapartheidsaktiviste. Hy verloor beide sy werk en sy vrou. As ‘n uitgeworpene volg hy Louise na Londen toe hy uitvind sy is soontoe weg. Hy wil haar ompraat om terug te kom, maar in die proses, swerwend deur ‘n ongenaakbare stad, begin hy vir die eerste keer werklik nadink oor sy verlede en sy skuld. Die waarheid is egter ewe ontwykend as sy vrou en dit word vir hom ‘n pynlike innerlike reis. Hy moet ontdek dat ook Louise iets het om weg te steek. Dan raak hy betrokke by ‘n gewelddadige konflik met twee Londense kriminele, en wéér staan hy voor ‘n morele toets - een waarin hy voorheen gefaal het. Toe hy na Suid-Afrika terugkeer besoek hy die familie van die gestorwe aktiviste om sy skuld te bely. Hy vind ook uit dat selfs hy nie weet van alles wat gebeur het nie. Nou moet hy besluit of sy toekoms in Suid-Afrika lê of in die Verenigde Koninkryk. Nasleep is Carel van der Merwe se debuutroman. Uittreksel uit Nasleep, bladsy 25 In die daaropvolgende dae verlaat hy selde die huis. Na die koerantberigte en sy kort verskyning op die televisienuus voel hy blootgestel en kwesbaar in openbare plekke. Soms bespeur hy onderlangse kyke in sy rigting; een keer in ’n winkel sien hy die herkenning in ’n vreemdeling se oë. Die reuk van kos maak hom naar en hy eet min. Een aand probeer hy dronk word, maar kry dit nie reg nie. Dit lyk of hy selfs sy aptyt vir alkohol verloor het. Dis seer oor sy bors en die dun spierlaag oor sy borsbeen voel gekneus, asof iemand hom ’n verpletterende hou toegedien het. Saans kyk hy televisie op ’n klein draagbare stel totdat sy oë dom is; daarna sukkel hy om aan die slaap te raak. Soms word hy in die nag deurdrenk van die sweet wakker en met ’n hart wat jaag.
In die ry van indrukwekkende debuutromans wat vanjaar verskyn het, staan hierdie roman beslis voor. - Louis Esterhuizen, Boeke-Insig. Lees hier die hele resensie.
... ’n besonder sterk debuutroman wat goeie dinge voorspel vir Carel van der Merwe se toekoms as skrywer. - Andries Visagie, Rapport. Lees hier die hele resensie.
’n Meesleurende roman, met ’n oortuigende ontplooiing. - Ronel Nel, Beeld. Lees hier die hele resensie.
Hierdie debuutroman bied op pakkende wyse die tema aan dat daar meer as een weergawe van die waarheid is. - Cari Coetzee, Die Burger. Lees hier die hele resensie.
Lees 'n onderhoud met Carel van der Merwe op LitNet.
Dit is intelligent geskryf met deernisvolle begrip vir die problematiek van die nuwe én die ou Suid-Afrika. Hannelie Booysens, Huisgenoot
Sy boek Nasleep en die vertaling, No Man's Land, is 'n indrukwekkende debuut. Mariana Malan, Beeld
|